Antieke Griekse kuns

Die kuns van Antieke Griekeland het ’n groot invloed op die kultuur van baie lande regoor die wêreld gehad, veral op die gebied van beeldhouwerk en argitektuur. In die Weste is die kuns van die Romeinse Ryk grootliks van die Griekse model afgelei. In die Ooste het Alexander die Grote se verowerings etlike eeue van wisselwerking tussen die kulture van Griekeland, Sentraal-Asië en Indië tot gevolg gehad, wat gelei het tot Grieks-Boeddhistiese kuns, met implikasies tot in Japan. Ná die Renaissance in Europa, het die humanistiese estetika en die hoë tegniese standaarde van Griekse kuns geslagte van Europese kunstenaars geïnspireer. Tot diep in die 19de eeu het die klassieke tradisie afkomstig uit Griekeland die kuns van die westerse wêreld oorheers.

Die kuns van Antieke Griekeland word gewoonlik stilisties in vier tydperke verdeel: die Geometriese, Argaïese, Klassieke en die Hellenistiese. Die Geometriese tydperk word gewoonlik gereken vanaf ongeveer 1000 v.C. Hoewel daar in werklikheid min bekend is oor kuns in Griekeland gedurende die voorafgaande 200 jaar (wat tradisioneel bekend staan as die Griekse Donker Eeue), het die tydperk vanaf die 7de eeu v.C. die stadige ontwikkeling gesien van die Argaïese styl, soos toegelig deur swartfiguurstyl van vaasskilderkuns. Die aanvang van die Persiese oorloë (480 v.C. tot 448 v.C.) word gewoonlik beskou as die skeidslyn tussen die Argaïese en Klassieke tydperk, en die heerskappy van Alexander die Grote (336 v.C. tot 323 v.C.) word beskou as die skeiding tussen die Klassieke en Hellenistiese tydperk.

Daar was in werklikheid geen waarneembare oorgang van die een tydperk na die ander nie. Kunsvorme het in verskillende dele van die Griekse wêreld teen verskillende tempos ontwikkel, en soos in enige tydperk het party kunstenaars in meer innoverende style as ander gewerk. Sterk plaaslike tradisies, konserwatief van aard, en die vereistes van plaaslike kultusse, het geskiedkundiges in staat gestel om die oorsprong selfs van verplaaste kunswerke vas te stel.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search